Let's Be Frank
by: Frank Opperman
| Label: | Next Music |
| Code: | LULI 051 |
| Viewed: | 133 times |
| Released: | Sep 2nd 2010, 10:00 |
Die laaste keer dat ek Frank Opperman in ’n laerskoolsaal gesien het, was tydens ’n ouervergadering. Gister het ek hom gesien by die Laerskool Mooirivier se skoolsaal, waar Let’s be Frank aangebied word. Die harde stoele in netjiese, reguit rye is nou nie die ideale plek om na sy laataand whisky-en-sigaret-musiek te luister nie, maar teen die einde van die eerste liedjie is die ongemaklikheid vergete.
Min mense weet dat Frank kan sing en dat hy dit reeds lank doen. Sy eerste CD, wat hy heel moontlik sal van wil vergeet, was tydens sy Ouboet-dae en gemik op die Orkney snork nie-mark. Nie die soort CD wat hy saam met hom in die kis wil hê as hy eendag ter ruste gelê word nie. Die tweede een was ’n onerkende meesterstuk wat hy saam met Michael Maxwell gedoen het. Dit het verdwyn omdat plaaslike radiostasies dit nie wou speel nie, die betrokke platemaatskappy nie genoeg geld op die bemarking daarvan bestee het nie en omdat daar destyds nie ’n mark vir sy soort musiek was nie. Almal het Ouboet verwag en Tom Waits gekry. Die dokumentêr wat hy geskiet het tydens sy landwye toer om die album te bemark, wys ’n leë kroeg in George of die mooi skoolsaal-aandete by ’n reünie van ’n skool op Worcester. Dit is ’n kultus-klassieke werk wat hopelik eendag sy regmatige plek sal kry. Ek is seker die gehore was ook teleurgesteld want hulle het nie gekry wat hulle verwag het nie.
Die CD se onvermoë om ’n mark te kry het Frank baie teleurgestel, maar aangesien dit is hoe hy sy geld verdien, moes hy aanbeweeg na meer lonende ekskursies. Nou, agt jaar later, het die sukses van Pottie Potgieter hom duidelik die tyd en geld gegee om weer Frank die sanger te laat herleef. Let’s be Frank verwerk baie van die vorige materiaal en kombineer dit met nuutgeskryfde liedjies. Die verskil is Jonathan Crossley. As musiekregisseur het hy ’n lankoliese subtiliteit aan die musiek gebring wat ’n musikale gevorderheid toon wat in Suid-Afrika nogal dun gesaai is. Hoewel daar ses musikante op die verhoog is (vat so backtrack fans!) word die instrumente spaarsamig gebruik om eerder musieklandskappe te skep as ’n oordonderende klank wat jou oorweldig. Daar is ’n akoestiese kitaar, banjo, double bass, viool en natuurlik drom en klawerborde. Die Lennon- en McCartney-liedjieskryfspan van Maxwell en Opperman het stories om te vertel en hulle weet hoe om dit te doen.
Hoewel min mense weet dat Frank kan sing, is dié wat weet dat hy wel kan sing, fanaties oor hom. Al was die gehoor klein het hulle aan sy lippe gehang - honger vir ’n nuwe fix wat hulle so lank ontken is. Die stem is waaroor almal altyd eerste praat. Partykeer dink ek dat Frank sy hele loopbaan bestee om weg te kom van Ouboet. Met Lets’s be Frank kan hy hopelik in ’n nuwe lig gesien word en die erkenning kry as ernstige musikant wat hy reeds so lank verdien.
- Just Wondering
- Blah
- Blue Skies
- Pink Dress
- Come the Big Rain
- ****ing with Love
- Come Clean
- Happy Birthday
- Save Me
- Bye Bye Baby
- Saddest Song
- Why
- Wonder Net
- Blah
- Pienkrok
- Gisteraand
- Somtyds
- Skaam Vir Jou
- Hoekom



































