Various Artists
by: Ontbytsake
| Label: | STORM Rekordz |
| Code: | STORMCD008 |
| Viewed: | 406 times |
| Released: | Jun 4th 2010, 17:23 |
Jan Harm Schutte, die weerman van die ontbytprogram op kykNET, vertel dat hy nog altyd ‘n album wou opneem en dat hy en Dawie Roodt, ankeraanbieder van die program, al baie daaroor gesels en gedroom het.
“Ek het ook gedink dat dit lekker sou wees om saam met ons gunsteling-sangers te sing,” vertel Jan Harm.
STORM REKORDZ was dadelik te vinde vir die idee en baie opgewonde oor die projek en die bal is toe vinnig aan die rol.
Jan Harm het ‘n blaaskans geneem van weersake, Dawie het finansiële sake bietjie opsygeskuif, Ulla Pakendorf het so bietjie van die kospotte vergeet en Milan Murray en Carla van Niekerk het ook ‘n blaaskans van hul aanbiedingswerk geneem - en die span het agter die mikrofoon ingeskuif.
DieOntbytsake-span hou hul lyf pure sangers op hierdie nuwe opwindende kompilasie-album en sing saam met hul gunstelingsangers - Coenie de Villiers, Klopjag, Richard van der Westhuizen, Riku Lätti, Bacchus Nel, Veraz, Jan Blohm, Karla du Plessis, Kevin Leo en Chris Chameleon.
En dan kry die Springbok-rugbyspeler Victor Matfield ook die kans om te wys dat hy gemaklik buite sy gemak-sone kan beweeg en ander talente weg van die rugbyveld het...
‘n Gedeelte van die verkope van die album word geskenk vir Helpende Hand - en die Ontbytsake-span is baie opgewonde dat hulle ‘n bydrae tot so ‘n goeie saak kan lewer. Bekroonde sanger/liedjieskrywer en komponis Mel Botes was verantwoordelik vir die verwerkings en het ook die leisels as musikale regisseur gehou. Hy het ook `n spesiale liedjie - Plekkie in die Son - vir die Ontbytsake-span geskryf.
Jan-Harm, sing Eerste Oogopslag saam met Chris Chameleon, Tussen Treine saam met Richard van der Westhuizen, Kring om die Maan saam met Coenie de Villiers terwyl aanbieder Milan Murray haar talente saam met Jan Blohm snoer met die liedjie Breyten se Brief en ook saam met Klopjag Stof sing. Sy sing ook saam met Lucas Maree en Manuel Escorcio N1 Roete Noord.
Manuel, Kevin en Dawie Roodt verras met `n opera-keurspel wat onder meer La Donna e Mobile insluit. Carla van Niekerk, die veldaanbieder van Ontbytsake sing saam met Karla du Plessis in Steeds op vrye voet.
Ulla wys dat sy nie net `n slag agter die kospotte het nie, maar ook sangtalent het - sy sing Waar is Jy? saam met Riku Lätti, Raam dit met die son saam met Bacchus Nel en Stokkie in die sand saam met die reggae-sanger Veraz.
Victor Matfield, Veraz, Richard, Dawie en Jan Harm stof die David Kramer liedjie Skipskop af terwyl al die Ontbytsake-aanbieders en die kunstenaars Mel se liedjie Plekkie in die Son sing. Die bonus snit op die album is Veraz se weergawe van Plekkie in die Son.
Die room van plaaslike instrumentaliste - Rob Watson, David Klassen en Theuns Botha (dromme), Jasper Janse van Rensburg (baskitaar), Jaconell Mouton (klavier en klawers), Mel en Theo Janse van Rensburg (kitare), Barry Snyman (saksofoon) en Adele van den Ven (agtergrondstem) - het ook hul gewig by die projek ingegooi.
- Breyten se Brief
- Eerste oogopslag
- Plekkie in die Son
- Stof
- Kring om die Maan
- Tussen Treine
- Opera Keurspel
- Stokkie in die Sand
- Steeds op Vrye Voet
- Raam dit Met die Son
- Skipskop
- Waar is jy?
- N1 Roete Noord
- Plekkie in die Son (Veraz)



































